BOODSKAP VAN DIE HOOF

Welkom by Hoërskool Oos-Moot

Beste Ouers, Leerders en Vriende van Oos-Moot

Dit is vir my ‘n besondere voorreg om u by Hoërskool Oos-Moot welkom te heet.

As trotse inwoner van die Moot en skoolhoof van hierdie besonderse skool, glo ek vas dat ons gemeenskap se grootste bate ons kinders is. Daarom is dit my wens dat elke kind in die Moot die geleentheid kry om in sy of haar eie gemeenskap skool te gaan – by ‘n skool waar uitnemendheid, waardes en geleenthede hand aan hand stap.

Elke leerder wat by ‘n Moot-skool ingeskryf word, dra by tot die groei en ontwikkeling van ons gemeenskap. Wanneer ons as ouers en inwoners kies om in ons plaaslike skole te belê, bou ons saam aan beter fasiliteite, meer geleenthede en ‘n sterker toekoms vir elke kind in die Moot.  Dit is deur hierdie gesamentlike belegging in ons plaaslike skole dat ons die geleentheid skep om ons kinders die beste moontlike onderwys, wêreldklasgeleenthede en ‘n omgewing van uitnemendheid te bied.

By Hoërskool Oos-Moot is ons passie om elke leerder te help ontdek waarin hy of sy kan uitblink. Ons streef daarna om ‘n omgewing te skep waar akademie, sport, kultuur en leierskap mekaar aanvul en waar elke leerder die geleentheid kry om sy of haar volle potensiaal te bereik.

Ons fokus is egter op veel meer as uitstekende prestasies. Ons wil jongmense toerus met karakter, integriteit, selfvertroue en die vaardighede om die uitdagings van ‘n vinnig veranderende wêreld met moed aan te pak. Ons glo dat ware sukses nie net gemeet word aan uitslae nie, maar aan die mens wat elke leerder uiteindelik word.

Hoërskool Oos-Moot is ‘n skool met ‘n trotse geskiedenis, maar nog belangriker, met ‘n opwindende toekoms. Elke dag werk ons doelgerig daaraan om ons skool verder uit te bou, nuwe geleenthede vir ons leerders te skep en ons strewe na uitnemendheid in alles wat ons doen, te verwesenlik.

Ek nooi u uit om deel te word van die Oos-Moot-familie. Kom ervaar ‘n skool waar kinders geken word, waar elke leerder saak maak en waar ons saam bou aan ‘n toekoms waarop ons almal trots kan wees.

“Wanneer ons in die Moot se kinders belê, bou ons saam aan die toekoms van die Moot.”

Vriendelike groete

Me. S Theron
Skoolhoof
Hoërskool Oos-Moot