Ons skool beywer ons om op akademiese gebied:
100% slaagsyfer te behaal; en
een van die top akademiese skole in die provinsie te wees.
Ons leerders word akademies ondersteun met die aanbied van die volgende geleenthede:
AANLYN/E-LEER (GOOGLE CLASSROOM)
Die skool gebruik sedert 2019 Google Classroom as ‘n aanlyn platform. Kliek op die blou knopie regs vir meer inligting.
AKADEMIESE UUR
Die skool het vanaf 2023 ‘n akademiese intervensie plan geïmplementeer in die vorm van ‘n akademiese uur. Die doel van hierdie plan is om leerders wat moontlike akademiese tekorte het te help en sodoende die algehele standaard van akademiese prestasie in die skool te verhoog. Daar is geen ekstra koste hieraan verbonde nie.
Alle personeel is op Woensdae van 14:00 – 15:00 in hul klasse beskikbaar vir ekstra akademiese onderrig. Leerders woon dit gratis by. Hier word die leerder gehelp deur uitdagende konsepte te behandel om sodoende beter te presteer en moontlike agterstande in ʼn spesifieke vak in te haal.
GRAAD 12 – EKSTRA SKOOLUUR
Met die oog op die strewe na ‘n suksesvolle en gebalanseerde leeromgewing het ons besluit om een keer per kwartaal ‘n ekstra, verpligte skooluur in te stel vir die graad 12-leerders. Hierdie bykomende uur is toegespits daarop om die sillabus meer deeglik te dek en om die druk van ons jaarlikse onderrigprogram te verlig.
Gedurende hierdie tydperk sal daar geen ander buitemuurse aktiwiteite vir die matrikulante wees voordat die ekstra skooluur om 15:00 afgehandel is nie.
DIE WOLKSKOOL
Die skool maak sedert 1 September 2021 gebruik van die Wolkskool. Die Wolkskool vervang nie die rol van die onderwyser by die skool nie, maar word as ʼn aanvullende hulpmiddel vir al ons leerders en veral die wat akademiese tyd verloor het, beskikbaar gestel. Die skool dra die koste vir die leerder se registrasie op hierdie platform. Volg die blou knopie regs vir meer inligting.
WISKUNDE (GRATIS EKSTRA KLASSE)
Die Wiskunde departement bestuur reeds vanaf 2016 die Wiskundesentrum. Wiskunde bly steeds ʼn vak waarmee heelwat leerders hulp benodig. Die Wiskunde sentrum het ten doel om die leemtes in leerders se agtergrondkennis aan te spreek. Die sentrum is Maandagmiddae vanaf 14:00 – 15:00. Klasse word gratis aangebied en leerders meld by hul vakonderwysers aan tensy ander reëlings getref word.
Die klasse behels die volgende:
Daar sal elke Maandagmiddag ʼn onderwerp behandel word wat betrekking het op die spesifieke graad. Die onderwerpe sal aanpas by die afdeling in die sillabus wat tans behandel word.Verduidelikings met voorbeelde sal in die eerste helfte van die sessie plaasvind.
- Daarna doen die leerders oefeninge.
- Elke leerder se werk sal gemerk word om vas te stel waar die probleem lê.
- Leerders word aangemoedig om al die werk vir die middag korrek te doen voor hy/sy die klas verlaat.
- Enige leerder kan ook ander grade se sessies bywoon om sodoende agtergrondkennis op te skerp.
WISKUNDE OMGEKEERDE KLASKAMER
Die Wiskunde departement het navorsing gedoen oor die “Omgekeerde klaskamer” onderrigmetode en baie navorsing gevind wat bewys dat hierdie onderrigmetode groot prestasieverbetering kan oplewer. Die onderrigmetode is vanaf 2023 met groot sukses by ons graad 10 tot 12-leerders geïmplementeer. Hierdie benadering bevorder selfstudie en die ontwikkeling van kritiese denkvaardighede.
Die skool maak gebruik van Die Wolkskool (sien blou knopie regs) wat spesifiek opgestel is om die omgekeerde klaskamer moontlik te maak. Elke leerder het GRATIS toegang tot al die Wolkskool se videolesse. Die video-lesse wat in 2023 deur mnr Drico Snyman (Oosie-Wiskunde onderwyser) gemaak is, is ook op hierdie platform beskikbaar en sal vir die omgekeerde klaskamer gebruik word.
ONTWIKKELINGSGELEENTHEDE
Die volgende akademiese geleenthede word ook vir ons leerders gebied:
Studiemetodekursus
Junior aanlegtoetse (Gr9)
Vakinligtingsaand (Gr9)
Belangstellingstoetse (Gr11)
Besoeke en loopbaanuitstallings deur tersêre instellings
Motiveringssprekers
Deelname aan Olimpiades in die distrik en nasionaal
VAKKEUSE BEMARKING – GRAAD 9
Vakkeusebemarking word jaarliks vir die graad 9-leerders aangebied om hul behulpsaam te wees met hul vakkeuse vir graad 10. Dié bemarking vind gedurende Julie/Augustus plaas met onder andere loopbaanuitstallings, besoeke deur verskeie tersiêre instansies, vakinligtingsessies en die vakinligtingsaand.
GRAAD 12 WINTERSKOOL
‘n Winterskool word jaarliks, gedurende die Junie/Julie skoolvakansie vir ons graad 12-leerders aangebied ter voorbereiding vir die Rekord- en Eindeksamen. Die vakke wat aangebied word, is: Wiskunde, Fisiese Wetenskap, Rekeningkunde, Lewenswetenskappe, RTT en Ingenieursgrafika en –ontwerp.