KUNSKLUB

BEKENDE OUD-OOSIE

Hier by die kunsklub kan jy skep volgens jou eie verbeelding, jouself uitdruk, en eksperimenteer.  Hier kan jy jouself uiter sonder enige grense of perke en sodoende openlik skep en unieke skeppings na vore bring. 

Indien jy diep in jou hart glo jy is ‘n kunstenaar,  jou vaardighede wil ontwikkel,of net jou kunstige kant ‘n kans wil gee, is die kunsklub die klub vir jou.  Elke Oosie is welkom by die kunsklub, met of sonder ervaring. 

By die kunsklub eksperimenteer ons met verskeie mediums en tegnieke.  Die doel van die kunsklub is om vir jou nuwe vaardighede aan te leer terwyl jy die geleentheid kry om te groei as kunstenaar en bekendstelling te verkry. 

Saam met die blootstelling aan verskillende style en mediums, sal die lede van die kunsklub ook gelei word om deel te neem aan kunskompetisies, intern asook ekstern.  Die kunsklublede sal ook die voordeel geniet om saam met die Visuele Kunste leerders opvoedkundige uitstappies by te woon.

Word deel van die Oosie-kunsklub en laat jou kreatiwiteit vloei in ‘n veilige omgewing waar jy net jou unieke self hoef te wees!

Die kunsklub is in 2023 weer volstoom aan die gang en kan nie wag om te spog met hierdie jaar se pragstukke nie. 

Klublede:  Liane Vorster, Alexis Pieterse, Lara Goetz, Franco Weber, Amoré van Biljon, Louleen van Buuren, Ezara du Plessis, Ruben Kleinhans, Elzaan Steenkamp, Abigail van Wyk, Alex Erasmus, Megan Otto, Michaela Turner, Jessica Bently, Margeaux Atkinson, Kristin Short

PROJEKTE 2024 EN 2023
Ons klublede lewer uitsonderlike kunsstukke deur die jaar.
KREATIEWE KUNS 2024

Ons graad 9-leerders het in Oktober hul kunsvaardighede gewys met die ontwerp van kleurvolle en unieke vinielplaatomslagte in die Popkuns-styl!  Elke ontwerp is ‘n weerspieëling van hul kreatiwiteit en passie vir kuns.

 
 
 
PROJEK 2 (2024)
Die kunsklubleerder het onlangs met ‘n medium van “jik” en ink eksperimenteer om unieke skilderye te skep. Deur die bleikende eienskappe van “jik” te kombineer met die diep tonale waardes van ink, het hulle ‘n reeks treffende kontraswerke gemaak.
 
PROJEK 1 (2024)
Vir hierdie aktiwiteit het die Kunsklub lede ‘n “urban style” klipskildery gemaak wat bestaan uit helder kleure.  Hierdie aktiwiteit is geinspireer deur die Eco-Oosies se besoek aan Wollies.
 
 
 
PROJEK 1 (2023)
Vir hierdie projek het die leerders gepoog om ‘n natuurtoneel op ‘n werklike stukkie natuur uit te beeld. Die verskillende vorme, groottes en teksture van elke klip is wat hierdie kunsstukke elkeen so interessant en uniek gemaak het.
PROJEK 2 (2023)
Kreatiewe, kleurvolle popkuns-koeie was die keuse vir hierdie kunsklub byeenkoms. Hierdie kunswerke is geskep in ‘n Ekspressionistiese styl met akriel op doek.