Ons glo dat deelname aan netbal nie net oor die spel op die baan gaan nie, maar oor die lewenslesse en waardes wat dit aan ons leerders oordra. Netbal bied ‘n platform waar spelers nie net hul fisieke vaardighede slyp nie, maar ook as individue groei. Dit leer leerders die belangrikheid van spanwerk – om saam te werk vir ‘n gemeenskaplike doel en om mekaar te ondersteun, ongeag die uitslag. Lewensvaardighede word gebou, want elke speler dra ‘n verantwoordelikheid teenoor hul spanmaats.
Vir baie van ons spelers is netbal nie net ‘n skoolsport nie, maar die begin van ‘n lewenslange passie. Of hulle later op hoër vlakke kompeteer, afrigters word, of net vir die liefde van die spel speel – netbal bly ‘n positiewe invloed in hul lewens.
Met die afsluiting van die 2024-netbalseisoen kan ons met trots terugkyk op ‘n besonder suksesvolle jaar vir ons skool se netbalspanne.
Ons seisoen het afgeskop met die NWU-reeks, waar ons algeheel derde geëindig het – ‘n indrukwekkende prestasie aangesien dit ons eerste keer was om teen sterker kompetisie in hierdie nuwe reeks deel te neem. Hierdie ervaring het ons spelers nie net sterker gemaak nie, maar ook waardevolle blootstelling gegee aan ‘n hoër vlak van kompetisie.
Na afloop van die NWU-reeks het die ligaseisoen begin, waar ons spanne uitstekend presteer het en algeheel 6de geëindig het – ‘n noemenswaardige verbetering vanaf verlede jaar se 8ste plek. Hierdie vordering is ‘n bewys van ons spelers en afrigters se toewyding en harde werk.
Die seisoen het ook pragprestasies deur twee van ons spanne opgelewer:
- Die o.14A-span het deurgedring na die Tshwane-uitspele, wat hul vasberadenheid en talent beklemtoon.
- Die o.15A-span het die seisoen op ‘n ongelooflike hoë noot afgesluit deur ligawenners te wees en tydens die SA-kampioenskappe 5de in hul ouderdomsgroep te eindig. Dit is die tweede opeenvolgende jaar dat hierdie span uitsonderlike resultate lewer – ‘n bewys van hul deursettingsvermoë en spanwerk.
Ons is besonder trots op al ons spelers en hul toewyding aan die sport. Hulle het nie net op die baan uitmuntend presteer nie, maar ook as ambassadeurs van ons skool opgetree. ‘n Groot dankie aan ons toegewyde afrigters en ondersteunende ouers wat onontbeerlik was vir hierdie suksesvolle seisoen.
Ons sien met opgewondenheid uit na die 2025-seisoen en die geleenthede wat dit vir ons netbalfamilie inhou!